Thursday, July 18, 2019
   
Text Size

Deursoek Webwerf (Search)

'n Lekker vet debat

E Ek het ‘n tyd gelede geskryf oor vet mense, diete, en wat dit is om vet te wees. Ek dink dit is tyd om weer daaroor te praat in die lig van die gesprekke oor lugrederye wat nou passasiers wil weeg. Ek praat aspris van vet – nie oorgewig, horisontaal gestremd of enige van die eufemismes wat gebruik word om ons te beskryf nie. Ek is vet – en snaaks genoeg – gemaklik daarmee. Wil ek nie maer wees nie? Ja asseblieftog. Ek wil. Ek wil dit absoluut wees. Geen verskonings nie. Maar ek is nie. As ek ‘n magic switch kon gooi om net te kan verslank sou ek dit doen, maar ek het nie een nie, en ek gaan nie dat jy my selfbeeld opdonner net omdat jy nie gewoond kan raak aan my liggaamsvorm nie.

 

In ons moderne samelewing is daar ‘n tendens dat mense op hul uiterlike geskat... of miskien onderskat word. Dit is ongesonde gesindheid, punt.

Dit is wel so dat ons vet mense dit ongemaklik maak vir ander mense op vliegtuie, ons vet mense moet miskien tog liewers nie sus en so klere dra nie, ons vet mense is ongesond. Great  - statisties gesproke is jy reg. Vet mense soos ek is al daai dinge.  

MAAR.  Ja - daar is ‘n maar. Meeste vet mense is nie so deur hul eie keuse nie.

Sommige mense tel gewig op deur ‘n gedwonge lewenstyl. Hulle werk hard om brood op die plank te sit. Hulle sit van vroeg in die oggend in die verkeer vas en spandeer tyd wat ander mense in die gym kan spandeer om te probeer betaal vir hul daaglikse brood. Hulle gryp gou kitskos erens of kry nie tyd om gereelde kleiner maaltye te eet nie.

Daar is natuurlik ook mense met stres- of depressie-verwante eetgewoontes waar vertroosting gesoek word in kos. Miskien beskou jy dit as ‘n swakheid, maar die gebrek aan empatie vir die probleme wat mense het maak jou nie verhewe bo hulle nie.

Ander mense kan eenvoudig nie bekostig om die regte, gesonde kos te eet wat hulle sal toelaat om maer te word nie. GESOND EET IS DUUR! Glo jy my nie? Daar is baie mense in ons samelewing wat leef op stysel. Nie omdat hulle wil nie, maar omdat al wat hulle kan bekostig ‘n pak mieliepap is, of wat hulle bietjie proteine probeer rek deur pasta, rys, brood of ander meer bekostigbare voedselsoorte. Het julle al gaan uitreken wat dit ‘n gesin met twee kinders kos om elke maand te eet? Wat as daar een broodwinner is wat - soos baie mense-  minder verdien as wat jou kosrekening is? Wat van die honderdeduisende gesinne wat die jaar hul enigste inkomste verloor het? Daar word baie keer gese dat vet ‘n welvaartsiekte is want net ryk mense kan dit bekostig om vet te word. Bulshit. Blantante, onverdunde bullshit.

Dan is daar mense met mediese kondisies wat nie kan gewig verloor op enige manier wat sinvol is nie. Byvoorbeeld mense met chemiese wanbalanse het as gevolg van ‘n mediese kondisie. Of mense met gewrigsprobleme wat nie kan oefen nie.

Dan is daar natuurlik ‘n baie groot persentasie van oorgewig mense en dit is mense wat ‘n mediese kondisie het as gevolg van al die pogings om gewig te verloor. Die s.g. metaboliese sindroom wat veroorsaak word deur die druk van die samelewing om die “ideale gewig” te he en dieet na dieet te volg, en dan uiteindelik jou metabolisme so op te skroef dat jou liggaam nie meer kos behoorlik kan verwerk nie. Ek sou skat dat die grootste rede vir die moderne vlaag van vet mense juis hierdie dodelike kombinasie is – sosiale druk en mode-diete. Dit is ‘n mediese kondisie veroorsaak deur ons moderne lewensstyl wat onder druk staan om te konformeer.  

Die hoeveelheid kere wat iemand al vir my gese het dat as ek minder eet ek gewig sal verloor maak my de bliksem in. Erg de bliksem in. Dit is net die oningeligdes wat sulke snert kwytraak.  Die mense wat my ken stel gewoonlik iets in die lyn van dat hulle nie kan verstaan dat ek oorgewig is nie, want ek eet nie groot nie. Ek wil nie regtig hier myself analiseer nie, maar ek het verrassend baie ander vet mense ook konstant op ‘n dieet gesien, maar hulle bly vet. Miskien verloor hulle ’n kilogrammetjie hier of daar, maar uiteindelik word dit ‘n leefstyl van versigtig eet, en ‘n leeftyd van konstant hoor hoe jy nie so goed is soos hulle wat wel maer kan wees sonder om enige moeite te doen nie.  Jel – meeste mense wat vet is doen moeite, en die kopbene wat altyd ‘n opinie het kan liewers hul sterre dank dat hulle nie daar deur hoef te gaan nie.  Kom ek vra jou nou ‘n eenvoudige vraag. Hoeveel mense ken jy wat oorgewig was en suksesvol gewig verloor en dit toe afgehou het? Een? Twee? Ek sou raai niemand. Ek praat nie van drie kilogram oor hul ideale gewig nie. Ek praat nou twintig of meer kilogram oor hul ideale gewig. So hou om hemelsnaam op om diegene wat nie so gelukkig soos jy is nie te verkleineer.

Hier is die realiteit. Miljoene mense om die wereld bid vir die dag dat iemand ‘n oplossing sal vind vir vet. Ek weet van geen enkele vet persoon wat wil vet wees nie, en ek weet nie van een enkele vet persoon wat nie al meerdere kere onsuksesvolle pogings aangewend het om gewig te verloor nie. Die mense wat dit regkry is die gelukkige min.

So nou is daar weer ‘n pilletjie op die mark, nadat daar al low-carb, low fat, low calory, low food, detox, poeiertjie met melk, poeiertjie sonder melk, vrugte en niks melkprodukte, sitrus, sop, dieetkundige, bloedgroep, chemise analise – noem dit maar – diete is wat gevolg word deur mense soos ek. ‘n Hele industrie het ontstaan wat my aan jou idees van die perfekte vorm wil laat konformeer. Nogtans gaan ek steeds aan in my soeke na die heilige graal van dieetprodukte. Daar is wel iets in my wat jou nie die plesier wil gee om weer op dieet te gaan nie. My selfbeeld het nie jou goedkeuring nodig nie.  As ek tog weer op die hamsterwiel van gewig verloor trap dat ek bars,  doen ek dit ter wille van myself – nie ter wille van jou nie.

 

Groete

 

-Gideon-


Gideon van Zyl Written on Thursday, 17 December 2009 00:00 by Gideon van Zyl

Viewed 7935 times so far.

Rate this article

(6 votes)

Latest articles from Gideon van Zyl


Comments
Search RSS
Only registered users can write comments!

!joomlacomment 4.0 Copyright (C) 2009 Compojoom.com . All rights reserved."

Flash Mp3 Player

Ondersteun deur

Banner

Wie besoek ons...

We have 124 guests online

Ranking on ZA Topsites

ZA TOP Sites

Ranking on SA Top Blogs

saTopBlogs.co.za