Saturday, July 26, 2014
   
Text Size

Deursoek Webwerf (Search)

2010 is hier!

2 010 is hier! 2010 is uiteindelik hier. Dit is asof daar ‘n buitengewone optimisme is oor 2010 wat byna onnatuurlik is. Dit is nie net Suid-Afrikaners wat hierdie optimisme tentoonstel nie maar mense van oor die hele wereld. Dit is asof 2010 ‘n byna magiese getal is vir mense. Of miskien is dit net die teenslae van 2009 wat mense laat voel dat dinge net beter kan gaan in die nuwe jaar. Dit was ‘n moeilike jaar vir meeste mense in die wereld. Ons is geteister deur die ergste wereldwye ekonomiese resessie sedert die groot depressie, mense het in hul miljoene werk verloor, duisende mense se huise is teruggeneem, en in elke ekonomiese setor was daar inkrimping. In kort – geld was minder.  

Sport

Vir ons Suid-Afrikaners was selfs ons sport se glans besig om te taan . Die Proteas het die jaar begin met ‘n oorwinning oor die Aussies en op die nommer een posisie, maar dit geeindig met ‘n reeks nederlae teen die Engelse, na ‘n katastrofiese 20-20 wereldbeker. Die Bokke het ‘n goeie jaar gehad, maar geeindig met ‘n katastrofiese Europese toer. Bafana-Bafana... ok – ek praat gladnie op die oomblik van sokker nie...

 

Die musiekindustrie in 2009

Die musiekindustrie het swaar gekry, met vallende cd-verkope.  Meeste musikante wat hul tariewe moes laat val om besprekings binne te kry, maar het ook ‘n afname in hoeveelheid besprekings gehad. Platemaatskappye het gevou en die megaverspreider van musiek, MFP het hul deure gesluit. Fantasia en Universal het begin saamwerk, en die platemaatskappy wat die meeste opgang gemaak het in die jaar was die relatief klein en onbekende Vonk musiek. Baie musikante het hul baadjies opgehang of deeltydse werk gevat. Musiek se pryse na die publiek het gestyg met 20% en meer soos wat kleinhandelaars probeer he tom dalende cd verkope tee te werk. Dit was onstuimig met baie veranderinge.

 

My dinge in 2009

Ek kan aan die ander hand nie regtig kla oor 2009 nie. Dit was ‘n goeie jaar vir my. Dit het met ‘n bietjie van ‘n dieptepunt geeindig, maar die goeie het die slegte uitstekend uitbalanseer. My cd-verkope van my vorige cd, Murg het niemand laat regop sit nie, maar die vestiging van die Murg band het wel wenkbroue laat lig. Ons was besig, en het ‘n positiewe jaar beleef met die band. Die belangrikste is dat die band stabiel gebly het, behalwe vir die inbring van Shannon as drommer om David die spasie te gee om op vocals te konsentreer. David het begin drom as ‘n tydelike maatreel totdat ons ‘n voltydse drommer kon kry, maar het ‘n uitstekende werk gedoen en ons deur die Battle of the Bands gedra. Verder het my fotografie goed gedoen, en ek het ‘n goeie platform om vanaf te werk in die nuwe jaar. Die video-produksie kant het ook begin om vorm aan te neem met twee musiekvideo’s wat ons vervaardig het (Sunette Bridges en Gerdt Roetz) en ook betrokkenheid by die verfilming van Johnny Late se cd. Ons het ook ver gekom met die vervaardiging van die debuut cd van Murg. Dit het begin as ‘n akoestiese soloprojek, maar het opgeeindig as Murg se debuut. Dit is die intelligente ding om te doen. Spandeer tyd aan wat die beste kans op sukses het.

 

'n Kykie vooruit

Die nuwe jaar lyk goed. Die nuwe jaar lyk uitstekend. Die Rewolusie.com webblad is tegnies gereed om in produksie te gaan, en ons het nog net ‘n paar formaliteite om af te handel by die bank sodat ons kaarttransaksies kan hanteer. Dan sal ons aanlyn kan gaan. Ek het ‘n reis om na Amsterdam te doen vanaf die 10e  tot 14e Januarie, en beoog om die webblad aanlyn te he kort na my terugkeer.

 

Rewolusie.com

Daar kom baie nuus oor Rewolusie.com in die volgende paar maande, maar wat ek wel kan se, is dat dit die potensiaal het om die manier wat mense na die musiekindustrie kyk vir altyd te verander. ‘n Baie belangrike doelwit vir my met Rewolusie.com is om ‘n groter persentasie van die inkomste wat deur musiekverkope genereer word terug te kry by die musikante wat die kreatiewe werkers is wat die musiek moontlik maak. Op die oomblik is dit minder as 4% van die gemiddelde cd se pryskaartjie wat by die musikant uitkom. Ek wil daardie persentasie radikaal verhoog, terwyl ek die prys van musiek na die publiek radikaal laer wil maak. Verder het ek ten doen om ons skatkis van goeie musikante blootstelling te help gee in ‘n mark wat ingestel is op die groot platemaatskappye wat fokus op hul resepte. Alles wat buite daardie resepte val is nie interessant vir die platemaatskappye nie, en ok uiteindelik by implikasie nie vir die uitsenders nie, en dus kry dit nie die blootstelling wat dit verdien aan die publiek nie. Kom ek maak ‘n skokkende stelling. As Koos du Plessis, Laurika Rauch, Lukas Maree, Jannie du Toit en ander van ons musikale legends vandag probeer he tom hul loopbane aan die gang te kry as jong kunstenaars, sou dit onmoontlik gewees het, omdat geen platemaatskappy in hulle belang sou stel nie, en omdat min radiostasies hul musiek sou speel. Ons moet ‘n manier kry om die diep talent wat legendes van die toekoms kan wees die blootstelling te gee wat die Afrikaanse publiek en daardie musikante verdien. Daarmee se ek glad nie dat die huidige oorheersende resep in die mark nie plek in die mark verdien nie, net dat die aandag wat dit kry oorweldigend is tot so ‘n mate dat iets anders nie plek kry nie. Daar is net 24 uur per dag wat ‘n radiostasie of televisiestasie kan spandeer aan inhoud, en dit is in hul eie belang om finansieel vatbaar te bly. Hul hoof stroom van inkomste is advertensie, en die bydrae wat groot platemaatskappye lewer aan daardie vatbaarheid is merkbaar.  Die onafhanklike vervaardigers en onafhanklike musikante kan eenvoudig nie meeding nie. Saam kan ons die formule help verander. Loer gerus op www.rewolusie.com om te volg wat ons hiermee doen.

 

Konsep vir Naak CD OmslagNaak

Ons beoog om die cd Naak vry te stel teen die einde van Februarie, en sal die cd eksklusief deur Rewolusie.com verkoop. Die cd sal as enkele liedjies, of as volledige cd in aflaaibare format beskikbaar wees, sowel as as ‘n cd wat bestel kan word. Dit is ‘n werklik opwindende projek met 12 songs op. Ek het 11 van die songs geskryf, en Johnny Late het een geskryf.  Hou die webblad dop vir meer inligting.

 

So dit is ongeveer dit vir hierdie eerste dag van 2010. Ons gesels weer, en sien julle gou by ons volgende gigs.

 

Groete

 

-Gideon-


Gideon van Zyl Written on Friday, 01 January 2010 12:01 by Gideon van Zyl

Viewed 102811 times so far.

Rate this article

(2 votes)

Latest articles from Gideon van Zyl


Comments
Search RSS
Only registered users can write comments!

!joomlacomment 4.0 Copyright (C) 2009 Compojoom.com . All rights reserved."

Flash Mp3 Player

Ondersteun deur

Banner

Wie besoek ons...

We have 136 guests and 6 members online

Ranking on ZA Topsites

ZA TOP Sites

Ranking on SA Top Blogs

saTopBlogs.co.za