Monday, December 18, 2017
   
Text Size

Deursoek Webwerf (Search)

Beter Suid-Afrika!

E k was nou vir twee weke weg, maar is terug van weggewees. Dit was chaoties en ek het eers ‘n week in Engeland spandeer en toe ‘n week in Duitsland. Ek het soos gewoonlik met sulke trips, vreeslik baie kiekies geneem, maar in die proses het my eksterne hardeskyf waarop ek my kiekies bere gegroet. Ek weet van backups, maar die hardeskyf is ‘n 2 TB hardeskyf, so backup na wat? Ander dinge wat klaarblyklik verlore is, is al die tracks wat ons opgeneem het vir Naak, en dan ‘n klomp werksverwante goed wat nie regtig so vreeslik baie interessant sou wees soos se maar ‘n mooi studiofoto van Jessica Alba nie, maar nouja – dit was ook belangrik.

Ek het vertrek op die laaste dag van die Wereldbeker en een van die dinge wat my besig gehou het die twee weke in die buiteland, is hoe ons die gevoel van “goodwill” tussen die mense van Suid-Afrika kan handhaaf. Ek het ook sit en dink oor die probleme wat ons beleef en hoe ons dit kan teëwerk. Ek het nie baie antwoorde nie, maar dit bring my toe by iets wat ‘n vriend van my jare gelede vir my gesê het. Hy het dit gestel dat as iemand ‘n moeilikheidmaker is, gee hom verantwoordelikheid. So as jy met iemand in jou span by die werk sit wat moeilikheid veroorsaak, beteken dit eitlik dat hy idees het en mens moet sy idees probeer inspan vir die beswil van die hele span. Mens moet hom ook verantwoordelikheid gee vir sy idees. As hy die visie het, het hy’t die werk.


Dan die vraag hoe ons dit kan van toepassing maak op die Suid-Afrikaanse samelewing en my gevoel is toe dat mens moet vra dat ons as Suid-Afrikaners die uitdaging moet aanpak om nie oor iets te kla as ons nie bereid is om ons moue self op te rol en iets daaraan te doen nie. Soos in as jy wil kla oor ‘n slaggat buite jou huis, werk eers uit hoe om dit self reg te maak en dan doen jy dit.   As jy voel die sypaadjie voor jou deur is toegegroei, moenie daaroor kla nie – maak dit reg. Basies is die idee om weer self verantwoordelikheid te vat vir wat om ons aangaan. Ja, ons betaal belasting, maar kom ons wees realisties – die plaaslike regering het baie groter probleme om mee te deel as om te probeer om jou sypaadjie skoon te hou. Dus kan ons kla tot ons blou is in die gesig, maar die probleem sal nooit opgelos word nie en ons kan maar aanhou om “hulle” te blameer, maar dit gaan nie die gat in die pad volmaak nie. So - of ons rol ons moue op en doen dinge self - of dit gaan nie gedoen word nie.

Nou maar wat van die politiek? Die politiek het mag omdat hulle daar geplaas is deur mense wat nie noodwendig jou buurman is nie. Begin om daarmee te leer saamleef. Dit gaan nie verander in die afsienbare toekoms nie en sterker nog – as ons probeer om ons samelewing te verander deur daaraan deel te neem, plaas ons daardie selfde politici onder druk om te verbeter, want ons gaan die pers en die res van die land ook agter ons kry! As jy verandering wil bring, moet jy dit self doen. Die regering of politici gaan dit nie vir jou doen nie. Nooit nie. Nie so lank as wat jy lid is van ‘n minderheid nie – en daarby bedoel ek nie ‘n blanke minderheid per se nie. So lank as wat jy in die middelklas voorstede woon is jy ‘n minderheid. Die meerderheid mense woon in veel hagliker omstandighede as jy. Iets soos 50% van die bevolking leef onder die broodlyn en hulle is nie in die voorstede nie. Hulle is in plakkerskampe, in plattelandse gehuggies, in tradisionele statte en in hophuisies. Hulle behoeftes is anders as wat jou behoeftes is. Hulle voel vere vir vuilgoed voor jou huis, want hulle is nog besig om te probeer om die dak te kry om nie te lek nie. Hulle soek die basiese om te oorleef. Hulle kom nog nie eens by die luukse van ‘n teerpad voor hul huis uit nie omdat hulle nie eens ‘n behoorlike voetpad voor hull huis het nie. Hulle dink nie eens aan slaggate in die pad wanneer hulle tussen die plakkershuisies deurloop na die naaste skoon water nie.


Nie so lank as wat jou stem verdwyn in die behoeftes van die meerderheid mense, sal jou “luukses” aan voorsien word nie. Hierdie is die realiteit van vandag en hierdie is die realiteit waaraan politici moet gehoor gee omdat dit hul kiesers is.

Dus kan ons gewone, gemiddelde, middelklas Suid-Afrikaners nie verwag dat ons munisipaliteite en ons regering veel gaan doen om ons slaggate reg te maak of ons lewens vir ons mooi te maak nie – hulle het ‘n te groot werk daaraan om ‘n dak oor die kop van hul miljoene kiesers te sit wat in sink gehuggies bly. So word gewoond daaraan, of doen iets daaraan! Self.

Ek het nie die oplossing nie, maar ek het wel ‘n idee. Dit is ‘n idee wat kan werk so lank genoeg mense daaraan deelneem. Nie omdat hulle lid is van ‘n politieke party nie, maar omdat hulle hul wêreld wil sien verander. Die konsep is om een dag ‘n maand toe te wy daaraan om iets in jou gemeenskap te doen. Dit hoef niks te wees wat geld kos nie, maar wel iets wat van jou tyd kos. As jy en jou buurman en die oom oorkant die straat een dag ‘n maand iets doen wat in almal se belang is, verander iets. Dieselfde vriend wat my vertel het hoe om ‘n klakous stil te kry, het my ook ‘n ander beginsel geleer wat baie belangrik in die lewe is en wat werklik werk. As mens gee, ontvang jy. As jy ander mense gelukkig maak, word jy self gelukkig. Dit is ‘n geestelike reël wat in alle filosofieë en gelowe voorkom. As jy net vir jouself leef, leef niemand vir jou nie. Daar is ook ‘n ander kant aan hierdie reël. As jy iets wil verander, tree op in die teenoorgestelde gees. As iemand suinig is, gee vir hulle geld. As iemand bitter en liefdeloos is, gee vir hulle liefde. As iemand bang is, gee veiligheid. Ek kan aangaan en aangaan.


Ek wil nie ‘n nuwe organisasie begin nie – daar is genoeg organisasies. Ek wil nie ‘n nuwe politieke party begin nie – ek is sinies or politiek. Miskien is dit iets wat die potensiaal het om ‘n nuwe beweging te wees.
Ja, daar moet organisasie kom om dit te orkestreer rondom die grootste behoefte, maar die beginsel is vrywillige deelname. Geen betaling nie en geen geld vir niemand nie. Ek het te veel gesien hoe die geld wat versamel word vir iets verdwyn in organisasie in. DIt gaan oor tyd. Jou tyd en my tyd. Daar gaan nie konserte wees om geld in te samel nie. Daar gaan nie na besighede gegaan word om geld te vra nie. Alle, maar alle bydraes sal gaan oor tyd en materiaal vir spesifieke take. As jy nie jou tyd kan beskikbaar stel nie, moet asseblief nie. Niemand gaan enigiemand forseer om deel te neem nie.
Geen geld gaan hande verwissel vir enigiets nie. As ons ‘n behoefte het om iets te koop, sal ons met die regte organisasies praat om die materiaal te probeer in die hande kry. As daar oorbly, gaan dit terug na die verskaffer.  Hulle kan ‘n bordjie opsit waar hul materiaal gebruik is as hulle wil, maar hierdie gaan oor meer as net die bemarkingswaarde.
Ek noem die beweging maar Beter Suid-Afrika. Met in my voorstad Beter Birchley en Beter Kempton Park. Miskien Beter Gauteng. Dit is op hierdie stadium ‘n beweging van een man. Ek. Want dit is waar dit begin.

Hopelik groei dit.  Eerskomende Sondag gaan ek en my Susanna rondloop in Birchleigh en kyk wat gedoen moet word. Jy is welkom om saam mee te doen. As jy wil weet wat die beplanning is, of wil vertel van iets wat jy beplan,  stuur vir my ‘n e-pos by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it – ek kan hiervan vertel hier op my blog en ook by die nuwe groep wat ek begin het op Facebook.
Wat dink julle? ‘n Beter Suid-Afrika of gaan ons net aanhou met kla?

Groete

-Gideon-


Gideon van Zyl Written on Tuesday, 27 July 2010 22:21 by Gideon van Zyl

Viewed 3672 times so far.

Rate this article

(2 votes)

Latest articles from Gideon van Zyl


Comments
Search RSS
Only registered users can write comments!

!joomlacomment 4.0 Copyright (C) 2009 Compojoom.com . All rights reserved."

Flash Mp3 Player

Ondersteun deur

Banner

Wie besoek ons...

We have 23 guests online

Ranking on ZA Topsites

ZA TOP Sites

Ranking on SA Top Blogs

saTopBlogs.co.za