Thursday, April 18, 2019
   
Text Size

Deursoek Webwerf (Search)

Dag 9 - Ek en vlieg

D ie grootste enkele bedreging vir iemand se diëetplan is om te reis. Nie net omdat mens dan aan snaakse tye blootgestel word wat nie in jou normale roetine inpas nie, maar omdat mens dan ook soms aan buitengewone en eetversoekings blootgestel word. Soos daai lunch saam met kollega's wat betaal vir die kreef thermidor of wat jou stiek vir lynvis wat met botter en knoffel gaargemaak is. Ok - ek dink wk fantasseer nou - dit is baie lanklaas dat iemand my vir 'n crayfish thermidor gestiek het, maar dit gaan oor die beginsel. As mens reis is daar nie plek vir veilige roetine nie, so mens moet baie harder op jouself wees as gewoonlik. Ek was ten spyte van dit soet. Jolene van Sun Belle Lodge het mooitjies vir my slaai gemaak vir die aandete. Dankie vir die moeite, Jolene!! Ek sal wel 'n bietjie verdwaal wees vir 'n paar dae tot ek weer by die huis is by my eie skaal.

In my geval was dit 'n tipiese reisdag. Ek het Dinsdagoggens opgestaan 4-uur in die oggend en die normale 3-s ding gedoen - jy weet - a shower 'n sh*t en 'n shave. Ontdek dat ek nooit gepak het nie, want dit is al so roetine dat mens begin verwag dat die klere self al in die tas moet spring. Jou beursie nie kry nie. En dan soos normaalweg myself haas na die lughawe om die voorgeskrewe uur voor die tyd daar te wees wat nooit heeltemal 'n uur is nie, dan incheck, die superlang toue by sekuriteit deurgaan - flitsembde rooi LEDs wat ewe triomfantlik uitbassuin "Wait time is approximately 8 minutes 45 seconds", verby die skoenpolleerders skarrel en hule probeer oortuig dat jy regtig jou skoene skoongemaak het, en dan net wanneer jy uitasem by hek C1 stop ontdek dat die hek nog nie eers oopgemaak het nie. Alles omdat die winkel wat die baie duur horlosies verkoop nie geweet het dat 'n Seiko Titanium behoorlik geseël moet word nadat hulle hom oopgemaak het om die battery te vervang nie. Ja dit is waar as hulle dit nie doen nie, is hy nie meer waterdig nie en dan versuip jou horlosie, en kan jy nie meer op jou arm kyk en agterkom dat jy eintlik te vroeg is waar jy eintlik gedog het jy is te laat nie. En op my iPhone kyk werk nie want ek moes 'n komplekse wagwoord op hom sit anders laat die ouens wat my maandeliks betaal om vreemde en slaapversteurende goed orals oor die wêreld doen my foon nie toe om my epos op te haal van hul epos server in Houston nie. Dus kan ek nie die tyd op hom lees sonder om eers daardie simpel komplekse wagwoord wat ek elke keer vergeet om te onthou omdat hy elke drie maande verander nie. Ek dink daai sin maak sin.

Ek dwaal af.

Nou daar is net een ding wat ek meer verpes as mense wat by my bedel, en dit is vlieg. Okei - daar is ook daai telefoontannie wat jou bel op my kontrakfoon en vir jou 'n kontrak aanbied op 'n foon. Vlieg is onaangenaam. EK is nie bang vir vlieg nie. Ek het nie regtig vrese wanneer dit kom by vlieg nie. Okei - daar is goed waarvoor ek bang is as dit kom by vlieg, soos daai tannie in die stoel langs my wat my uitvra oor my Ma, my vrou, my kinders, my werk, my gesondheid, my kerkverband, my gunsteling tandepasta en my selfoonkontrak. Al wat ek wil doen op 'n vlegtuig is om te lees. In stilte. Net ek. Op my iPad. Dit is al wat goed isvan die vliegtuig. Ek kry kans om te lees. Wanneer ons eers opgestyg het en ek my iPad mag aansit. Want my iPad sal glo die vliegtuig laat val. Wanneer hy opstyg of land. Net soos my iPod, my selfoon en my elektroniese tandeborsel. Nie dat ek my tande sal borsel wanneer 'n vliegtuig opstyg nie. Miskien wanneer hy land (het jy al gevoel hoe jou tande voel na 14 uur in die lug en drie lugvaart maaltye).

 

Dan is daar lugwaardinne. Ek is seker oor die algemeen is hulle baie dierbaar, maar ek vra vir jou tmet trane in my babyblou oë - wie ontwerp hulle uniforms? As fotograaf spandeer ek baie tyd daaraan om mense te bestudeer - gesigstruktuur, liggaamshouding, velkwaliteit, en dan natuurlik hoe hulle hul klere dra. Ek het amper nog nooit 'n lugwaarding gesien wat gemaklik lyk met wat sy moet dra in die lug nie. En gepraat van velkwaliteit. Is dit net ek, of het almal groter porieë wanneer hulle land van enige vlug wat langer is as 10 minute en hoër gaan as 10 000 voet? DIt moet die lugdruk wees wat mens se porieë so laat swel. En enkels. En are in mens se oë.

Ek reis permanent met die volgende belangrike medisynes. Oogdrupels (vir die oë wat brand na mens vlieg), Die neus swel, die oë word rooi, en selfs die hare val platrennies vir die spysvertering ( miskien laat die minder lugdruk mense se maag uitsit en ekstra suur produseer) en natuurlik 'n pakkie Stimerols vir die lugdruk en vir daai vliegasem. Misien nie vir jou nie, maar jy kan dit aanbied vir jou buurman wat daarop aandring om interessante vrae oor jou lewe te vra. Dit werk. Probeer dit. Iemand begin jou uitvra oor alles, en jy wil net lees. Terwyl hulle praat, frons, en dan bied 'n Stimerol aan vir hulle. Hul eerste reaksie sal wees om stadiger te praat en dan te stop. Dan blaas hulle eers gou in hul hand en ruik daaraan. Hulle sal selfbewus wees en dink dat hul asem stink. Perfekte manier om 'n lastige buurman stil te kry. Daar is nog maniere. Die mees slinkse is om te wag tot 'n lugwaardin of lugwaarbeer verbystap en dan sê jy hardop "Nee, ek is nie lid van die milehigh club nie, en sal ook nie lid wil word saam met jou nie". As dit 'n vrou is, sal sy gewoonlik bloos en  stilbly, as dit 'n man is, sal hy jou wil bliksem, en natuurlik het dit die dubbele voordeel, dan as hy jou wel bliksem, jy hom kan aankla van aanranding en baie geld maak uit hom uit. Hy sal ook gearresteer word wanneer jy land aan die ander kant. Belangrikste is dat hy nie weer met jou sal praat vir die res van die vlug nie.

 

Soos julle kan agterkom, voel ek redelik disrespekvol teenoor vlieg. Ek het genoeg airmiles om die reg te hê daartoe. Hierdie week is dit twee vlugte van twee uur elk.Voorverlede week was dit 10 uur tot by Parys, toe ses uur in 'n lughawe, en toet twee uur tot in Lisabon. In Lisabon 'n uur wag in lyn vr 'n taxi.Ek kan nie eens begin vertel van die vlug terug nie...

 

Soos ek sê, ek het die reg verdien om sinies te wees oor vlieg.

O ja - voor ek vergeet. Die rede waarom my baard gryser is as my hare, is omdat ek my hare laat daai. Njannies. Jou vermoede was reg tannie. Nou laat my asseblief my boek lees.

*****************

 

 

 


Gideon van Zyl Written on Wednesday, 09 November 2011 22:43 by Gideon van Zyl

Viewed 10344 times so far.

Rate this article

(2 votes)

Latest articles from Gideon van Zyl


Comments
Search RSS
Only registered users can write comments!

!joomlacomment 4.0 Copyright (C) 2009 Compojoom.com . All rights reserved."

Flash Mp3 Player

Ondersteun deur

Banner

Wie besoek ons...

We have 45 guests online

Ranking on ZA Topsites

ZA TOP Sites

Ranking on SA Top Blogs

saTopBlogs.co.za