Ek wil nie krities-analities wees oor die shows nie, omdat dit definitief 
afbreuk sal doen aan die algehele indruk wat dit op my gelaat het. Die stukke is groter as my opinies.
Musiek is in kern die uiting wat ‘n kunstenaar gee aan ‘n emosie. Of dit nou woede, liefde, haat, frustrasie, sinisisme, vreugde of watookal is – musiek is ‘n medium wat uiting gee aan die mens se kapasiteit om te voel en het die buitengewone karaktereienskap dat – indien dit interpreteer word, kan dit weer dieselfde emosie opwek by die gehoor wat die skrywer ingesit het ten tye van die skrywe daarvan. Soms kan ‘n goeie kunstenaar die emosie wat in die musiek belê is selfs versterk.
Van alle stukke wat ek nog ooit gesien het, illustreer hierdie twee stukke hierdie vermoë van musiek om emosies te manipuleer die beste.
David’s Confession doen dit net deur die musiek nie, maar ook tematies deur die stuk. Die verhaallyn gaan in kort oor ‘n musikant wat musiek geskryf het net om uit te vind dat die musiek wat hy geskryf het gebruik word om die mensdom te manipuleer. Ja, dit is soort van ‘n geykte verhaallyn, maar as mens ‘n rock opera skryf hoef die storielyn nie vir homself te praat nie. Die musiek moet vir dit self praat, en hierin slaag David’s Confession by uitstek. ‘n Rock opera gaan nie soseer oor die literêre meriete van
die teks nie, maar oor die musikale meriete van die verhaal, en hier slaag Mel Botes en die span by uitstek om emosie weer te gee. Eerstens die emosie van die hoofkarakter, maar dan ook van die skrywer. Miskien tot by die punt waar die hoofkarakter, die skrywer en die uitvoerder inmekaarvloei tot ‘n onherkenbare eenheid van emosie en klank.
Afri Frans is heeltemal ‘n ander ervaring – musikaal en emosioneel.
In David’s Confession was ek oorstelp deur die grootsheid van dit alles, waar in Afri Frans ek geraak is deur die skoonheid en sensualiteit van die vertoning. Waar in David’s Confession dit gegaan het oor die dramatiese, gaan dit in Afri Frans oor die subtiele en elegante. Die spel tussen beligting, musiek en gebruik van die verhoog deur die die twee sangeresse vertel ‘n verhaal van musiek met musiek. Die Afrikaanse liedere van liefde en leed en vreugde en verspotte lawwigheid weef almal saam om iets van ons musiek en ons mense te vertel. Die gebruik van Frans dien bekende liedere vars op, en liedere wat gelief, maar miskien al geyk voel, trek voordeel uit die vars verwerkings van Matthys Maree. Miskien juis as gevolg van die gebruik van Frans eerder as die oorspronklike Afrikaans kry die musiek nuwe betekenis.
Dankie dat daar nog plek gemaak word vir musiekteater in ons land en dat mense dit nog steeds ondersteun.





Junk Mail has posted a warning about ...
Sorry, maar hierdie is nie die koeran...
angry: dis nabsolite kak koerant en ...