Tuesday, July 29, 2014
   
Text Size

Deursoek Webwerf (Search)

Mediavrystellings

Gideon


MURG


 “Afrika se stof is gemessel in my gees.” Dit is die CD se omslag wat aanvanklik my aandag trek. Met ‘n stapel albums van hoopvolle nuwe kunstenaars op die lessenaar, besluit ek om dié een eerste in die speler te druk.

En op die plek is ek totaal oorrompel.
 Van die eerste note af kry Gideon dit reg om die luisteraar vas te vang – nie net omdat die lirieke eerlik en nostalgies mooi is nie – maar omdat die talent suiwer en boeiend is en van duidelike begeestering en lewenservaring spreek.

 
Net soos die omslag insig voorgestel het, is dit ook in die lirieke te bespeur. Die 12 snitte, almal oorspronklik en uit Gideon se eie filosofiese pen, wissel in styl van blues tot rock, jazz en folk.Omdat hierdie ‘n album is wat jy in jou speler sit en end uit wil luister, is dit baie moeilik om net ‘n paar uit te sonder, maar luister veral na Ek het nog my lewe (wat beloof om ‘n treffer te wees), en so ook Maskers, Die moeite werd en die bitter mooi I want to declare.

 
Dit is toenemend raar om die vreugde van régte musiek te hoor. Te veel ander kunstenaars verlaat hulle op die resep-vervaardigde roete en raak dan verlore in die hutspot van afrikaanse musiek wat alles eenders wil klink. Daar is géén gevaar dat dit met Gideon gaan gebeur nie.

 
MURG is een van die woorde uit die lied “Afrikadag",” vertel Gideon uit Dubai waar hy hom tans bevind. “Die lied sê dat ek ‘n kind van die son en die reën is en Afrika se ritme in my murg en been voel. Vir my vertel dit van die verbond wat ek met my land en my mense het en dit sê ook iets oor my verband met my musiek.”

 
Gideon se stemvaardigheid is ryk, volwasse en geslyp. Die lirieke vertel elk ‘n storie uit die hart, soms met ‘n goeie skeut sosiale kommentaar – en deurgaans boei dit en vang dit jou vas.Hierdie is ‘n CD met baie om die lyf en is gemik op die fynproewer. Gideon het net die beste kunstenaars gebruik om hom by te staan en die krediete lees soos ‘n toonvenster van ons beste talent. Daar is die internasionale gehalte van Denny Lalouette op baskitaar (absoluut uitmuntend!) en Mauritz Lotz op kitaar. Neill Ettridge is uiters bedrewe op dromme, Barry Snyman toor met die saksofoon en Johan Kelber wys sy fenomenale slag met die klavier, hammond orrel en tjello. Wat ‘n vreugde om soveel vaardigheid aan te hoor!

 
Soos Gideon self sê: “Niks wat die moeite werd is kom sonder tyd en trane.” Met die eksotiese klanke van die Midde-Ooste rondom hom, hunker sy menswees steeds na die land van sy herkoms. Hy het sy tyd geneem en seker gemaak dat hy ‘n album daar stel wat hom uit die staanspoor in ‘n klas van sy eie gaan vestig.

 
“Tien jaar weg uit my hartland het my baie geleer oor wat vir my belangrik is. My mense, my taal, die geur van plekke. Ek glo dat een van die belangrikste dinge in die lewe is om nooit van iets weg te gaan nie, maar altyd na iets toe te gaan.” Net soos die naam Gideon in hebreeus “uitkerwer” beteken, het Gideon van Zyl ook vir homself ‘n spesiale nis in die afrikaanse musiekindustrie oopgekerf. Hou jou ore gespits – jy gaan nog BAIE van die uitsonderlike man hoor. 

Vir meer inligting, skakel Lydia Winchester by 011 475 2187 / 082 554 8453 of kliek hier om vir haar 'n e-pos te stuur.

Flash Mp3 Player

Ondersteun deur

Banner

Wie besoek ons...

We have 135 guests and 1 member online

Ranking on ZA Topsites

ZA TOP Sites

Ranking on SA Top Blogs

saTopBlogs.co.za