Sanger of musikant. Maak dit saak?
Written by Gideon van Zyl Saturday, 19 June 2010 17:05
Almal wil ‘n sanger wees, maar nie genoeg mense wil musikante wees nie. Dit is jammer dat dit so is, maar dit is eenvoudig ‘n feit. Ek het ‘n paar jaar gelede ‘n stelling gemaak teenoor ‘n vriendin van my dat dit nie so is nie. En ek het gese dat die mark nie te vol is nie. Ek is egter mans genoeg om te erken wanneer ek verkeerd was, en hier is ek verkeerd. Die stelling wat sy (‘n bekende sangeres uit my era) gemaak het is dat daar so veel rubbish in die mark is dat die goeie kunstenaars nie herken kan word nie. Mense is so gevoer met ontbytpap dat hulle nie meer ‘n maaltyd kan of wil verteer nie. Mense wil nie meer die teksture en subtiliteite van musiek wat kunstig uitgevoer is deur kunstenaars se tekstuur aandurf nie. Mense wil nie meer gaan sit en luister na ‘n song nie. My gevoel was dat al die musiek op die mark die pie groter maak, en dat dit seker maak dat die inkomste vir die musikante ook aanhou groei.