Wednesday, June 19, 2019
   
Text Size

Deursoek Webwerf (Search)

Blog

Groot Trek

(0 votes)

Ek behoort teen nou al gesout te wees as dit kom by trek. Die afgelope 10 jaar het ons al 6 keer internasionaal (tussen lande dan) getrek, maar die kuns van trek ontgaan my nog steeds. Die mense is vandag hier besig om al ons goed te boks (ek kan nie die d-woord gebruik nie anders is ek straks in die k soos Stefaans wat dei hele wêreld vertel het dat hulle moet f), en Susanna stres nou al 'n week lank oor die getrekkery. Dus is vrede in die huis min, maar ons is almal oortuig dat dit tydelik is.

 

As dit net die groot trek was, was dit redelik eenvoudig. Ek is ook veronderstel om so af en toe 'n teenwoordigheid in te sit op die projek waarop ek werk, die kar se remme het opgehou rem, en David se laptop het opgehou lap. Dus is die grote rooie Lumina SS nou by die grudge en die laptop is by die herstelmannetjie. Die SS sal hopelik teen vanaand weer hier buite staan om verkoop te word (inmiddels onnodig optimisties - word nou Saterdag), en die laptop het 'n onbekende einde in sig. So - krisisse. Veral oor die laptop. David was besig met sy finale projek vir sy diploma, toe moes ek skielik plan maak. Al plan wat enigsins toe sin maak was om nog 'n iMac te koop om die hartseer MacBook Pro te vervang. Nouja - dei iMac het vir een dag gewerk vandat ons hom gekry het, en nou word hy gepak vir die huis. Belaglik sou julle dink, maar nou sal hy maar net weer sy geld moet terugverdien. David se projek is wel klaar.

 

Hopelik sal ek more 'n paar foto'tjies plaas van die groot trek en meer vertel.

 

Groete uit die Sandput

 

-Gideon-

 

Kwêla Uitsending

(0 votes)

Die Kwêla uitsending het toe gisteraand uitgegaan, en ek het baie positiewe terugvoer daaroor iuit verskillende oorde. Ek wil net weereens die span van Kwêla wat die dag saam met my spandeer het bedank vir die uitsonderlike werk wat hulle gedoen het om my hart op so 'n manier vir die mense te wys.

 

Die shoot het verlede week en Vrydag plaasgevind by Lydia Winchester se huis. Ek was teen 9-uur se kant daar en was redelik gestres. Ek doen nou nie so gereeld so iets dat ek daaraan gewoond kan wees nie. Sterker nog - dit is die eerste keer wat ek so iets doen. Ooit.

 

Teen 9-uur het die span begin opdaag. Soos gewoonlik was die tegniese mense eerste daar  en ons was gou besig om alles te bespreek met die span wat na verskillende plekke om die huis gaan kyk het. Toe Eloise opdaag was ons gereed om te skiet.

 

Ons het begin met 'n gesprek in die tuin, en het toe die huis ingegaan en uiteindelik (natuurlik) in die wynkelder opgeëindig. Ek belowe julle ons het nie Lydia se wyn opgedrink nie, en enigiemand wat iets anders sê was nie daar nie Innocent

 

Eloise het ook 'n onderhoud gevoer met Lydia en toe ons daar klaar is, het ons 'n bietjie footage gaan skiet by 'n park. Ek het nie die uitsending gesien nie (Dubai se skuld), so ek weet nie wat gebruik was en waar dit gebruik was nie, so ek vertel maar net wat ons gedoen het. By die park het ons die materiaal geskiet vir 'n musiekvideo van Afrikadag. Dit was nogal snaaks. Daar staan 'n wilgeboom wat oor 'n plas water uitgroei, en die idee wa dat ek op die boom moet sit en speel en sing wat dan gesinkroniseer sou word met die  musiek van die cd. Nou daarvoor moet jy natuurlik darem die cd hoor sodat jy daarmee kan saamspeel. Elizia het so 'n boomboks ding saamgebring wat ons daarvoor kan gebruik, maar die batterye het toe uitgeloop wat daarin is, en ons boomboks wil toe nie boom nie. Jaco het so 'n ou ietsie-bietsie karretjie, en hy trek hom toe nader sodat ons die radio in sy kar kan gebruik om die musiek te speel, maar dit blyk toe dat sy kar ook net ietsie-bietsie klank het. Die uiteinde was dat ek toe nie kon sing met die kitaarspelery saam nie, anders kon ek nie die klank van die musiek hoor nie. Nou weet ek ook hoe dit voel om Britney Spears te wees Kiss

 

Toe kom die verrassing. Die span ry my Kyalami toe want sien daar is toe kans vir my om motorfiets te gaan ry. Hulle het net 'n 250 cc motorfietsie gehad, en die baadjies was vir chinese mannetjies van net oor die 4 voet, maar gelukkig het hulle vir my 'n t-hemp gehad en 'n valhelm wat op my kop pas, en toe ry ek op en af ind ie parkeerterrein vir die kamera. Dit was vet pret en sommer net 'n kans om laf te wees.

 

Vir my was dit nie net 'n kans om iets nuuts te doen nie, maar ook 'n heerlike dag uit met fantastiese mense wat passie het vir hul werk en vir Afrikaanse musiek. Ek hoop die uitsending het dit ook reflekteer.

 

Daar was natuurlik nog 'n stukkie wat aandag nodig gehad het. Terug in Dubai, moes ek footage aanstuur na Suid-Afrika. Ek het Sondagoggend vroeg geland, en ek moes dit Maandagoggend koerier. Sondag was 'n gewone werksdag vir my (mens moet ook geld verdien en anders as wat die gerugte dit sou wil hê word mens nie oornag ryk as jy musiek maak nie - meer soos oornag arm), dus toe ek by die huis aankom Sondagaand was dit direk na my Mac en aan die soek na footgae wat gebruik kon word. Tot my ontsteltenis ontdek ek toe dat my eksterne hardeskyf met al my rou footage op gecrash het. Gelukkig het ek en David die videokamera saamgeneem werk toe en het ons 'n bietjie geskiet langs die pad. Ek het toe maar goed bymekaargeskraap, video's van twee liedjies bymekaargeflans en David se geannimeerde weergawe van Net 'n Nommer ook opgelaai. Maandagoggend is ek na die laaste oplaai op band eers om half tien weg werk toe en het die bandjie na tien gekoerier. Chaos.

 

Laat my asseblief weet wat julle gedink het van die insetsel. Tot kyk!!

 

Groete uit die Sandput

 

-Gideon-

 

PS: Ek het die foto's uitgehaal. Ek verstaan die webblad laai stadig. Ek sal die foto's kleiner maak en dan later weer terugsit.

   

Die besoek

(0 votes)
Ek was die afgelope week in Suid-Afrika soos heelwat van julle dalk sal weet. Dit was baie, baie besig. Hier gaan dit nou baie besig, so ek gee net 'n vinnige opdatering.
In vogelvlucht (soos my Ne'erlandse vriende sou sê), was dit besig maar vrugtevol. Ons het 'n hele paar dinge bereik. Die hoogtepunte vir my is:
1. Ons het huis gekoop in Kempton Park. Lekker naby aan die lughawe, naby aan Jozie en ook naby aan Pretoria. Dus kan ons (relatief) vinnig by enige plek uitkom. Die huis is lekker ruim en kan as 'n goeie platform dien van waar ek en Susan kan werk wanneer ons weer terugkeer na Suid-Afrika.
2. Ons het heerlik gekuier by vriende. Ons vriendskappe is een van die belangrikste bates wat ons het. Sonder ons vriende is ons net 'n eiland sonder betekenis.
3. Ons het goeie vooruitgang geboek met die cd. Ek het drie onderhoude met radio stasies gedoen, een onderhoud met 'n tydskrif en 'n hele dag saam met die Kwela span rondgery en gekuier. Lekker. Dus kyk uit vir die Kwela storie op Woensdagaand, en kyk uit vir die April-weergawe van Manwees. Ek weet dit is nou eers Maart, maar wag maar - dit kom
Ek vertel later weer meer, maar vir nou moet ek eers probeer om 'n bietjie rus in te kry en weer by te kom.
Groete uit die Sandput
-Gideon-
   

Santana live in Dubai

(0 votes)

My lewe is baie keer gevul met antiklimakse. Ek sien meestal vreeslik uit na iets om te gebeur, en dan wanneer dit uiteindelik wel gebeur, is die resultaat teleurstellend. Of miskien iso dit net nie so gaaf soos ek dit sou wou hê nie.

 

Gisteraand het ons 'n show bygewoon van Carlos Santana, en dit was een verwagting wat definitief deur die resultaat oortref is - vêr. Ek was nou al by 'n paar live shows in Dubai - Phil Collins, Shakira, Lionel Richie, en ander. Die hoogtepunt vir my tot nou was die Jazz Festival verlede jaar en dan spesifiek die show van Jamie Cullum. Dit was ongelooflik (ek dink ek loop die gevaar om in die stuk uit hiperbole uit te hardloop, maar kom ons gaan aan en kyk maar ). Die doodsteeek vir die goed is gewoonlik die venue. Die Jazzfestival was erg cool, want dit was by Media City op die gras daar met baie sitplek, en met beanbags vir die mense wat wil boheems wees. Dit is skoon, goedgeorganiseerd en Jazzliefhebbers is oor die algemeen gesofistikeerde, warm, vriendelike mense wat jou laat tuisvoel. Mense druk nie in rye in nie, as mense teveel gedrink het, is hulle net vriendelik en oor die algemeen is dit soos 'n baie groot teepaartie. Nouja - die Jazz Festival is so iets. Jamie het by die Jazz Festival opgtree, daarom.

Read more: Santana live in Dubai

   

Tranerige gevoel, Metro-manne en Geleenthede om 'n verskil te maak.

(0 votes)

Ek is geneig om iemand te wees wat baie emosioneel te word oor dinge. Daarby bedoel ek nie soos in ek stamp my toon en wil huil nie. Ek is ook emosioneel robuust, so ek is nie 'n pushover nie, en is gek oor 'n goeie debat. Dit gaan oor klein goedjies en tref my wanneer ek dit nie verwag nie. Ek weet ons het hierdie wonderlike macho wêreld waarin ons manne moet sterk wees, en alles, maar ten spyte daarvan is ek geneig om emosioneel te word oor dinge. Daar is 'n paar dinge wat my altyd laat embarrassingly laat voel of ek net wil tjank.

 

Die nuwe woord is metro-man. Dit is nou manne wat in voeling is met hulle emosies en wat hul klere keurig uitkies en selfs hul hare pragtig versorg. Hulle gaan vir facials en laat hul cuticles deur spesialiste versorg. Okei, ek kry die in voeling met emosies deel redelik reg, maar ek dra ou t-shirts wat die vorm van my lovehandles al aangeneem het en my hare soort van val waar hulle wil. Ek verkies 'n ou uitgebleikte bermuda broek of jean wat  'n paar mates te groot is, want dan voel ek of ek gewig verloor het, en soms kou ek my naels wanneer ek na spannende flieks kyk. Ek skat ek maak nie 'n baie goeie Metro-man nie, maar ten minstens doen ek redelik goed in die in voeling met emosies gedeelte.

Kom ek noem maar 'n paar dinge:

Onverwagte komplimente.  Dit is erg - ek sit in 'n focal point review en my baas vertel hoe goed ek is met my werk en dat ek 'n inspirasie is vir my medewerkers en my positiewe gesindheid bla bla bla, en die volgende oomblik bekak my gemoed my sommer heeltemal. As hy vir my sou sê dat my werk uiters tros is, sal ek toe-to-toe gaan met hom en sy redenasie koel en kalm dissekteer sonder om meer emosie te voel as 'n koel de-bliksem-in gevoel nie

 

- Goeie vriende. Ek kry hierdie bevlieginge waar ek net voel ek wil met ou vriende praat. Miskien is dit iets wat my in my slaap aanval, maar ek kom net by sekere dae waar ek skielik uit die bloute wonder waar iemand is, en hoe dit met hulle gaan. Miskien is dit een van die redes waarom ek by Facebook en by Myspace is - vir daardie onverwagte kontak met ou vriende. Maar dan eendag is daar net 'n plek waar iemand iets sê wat so real is dat my hart in my keel opstoot en dan net vir 'n paar oomblike is jy nader aan mekaar as wat tyd en plek kan maak. Dan het ek so iets wat  in my opkom en net vir my laat voel om te sê "jy weet, jy is spesiaal". In die geval van manne kan dit nogal uiters embarrasing wees (dit is sooooo gay), maar in die geval van vroumense kan dit lewensgevaarlik wees. My Susanna is 'n moeilike mens as dit kom by dat ek vir meisies (of anties as jy nou dit so wil sê)vertel hulle is spesiaal , so ek sjarrap maar liewers .

 

- 'n Goeie fliek. Steek julle hande in die lug wie nog nie 'n traan weggepink het vir 'n film nie - sorry, maar jy lieg. Ek meen, ek het noudiedag Rocky I gekyk en heeltemal emosioneel gevoel. Nie oor hoe hy behoorlik gebliksem was en amper doodgegaan het nie, maar oor hoe onhandig hy met sy skaam girlfriend was. Sad - is ek nie. Nouja, ek vermy nou maar liewers die ander Rocky films. Ons het die hele reeks tot met die nuwe Balboa ene, maar ek kyk maar die boksie met die DVD's met suspisie aan - straks laat dit my weer Metro-man voel. Nou wil ek nie begin praat oor Sleepless in Seattle, The Notebook en City of Angels nie...

 

- 'n Goeie song. Daar is party songs wat my emosioneel heeltemal wegvoer. Partykeer is die sing van 'n song so emosioneel vir my dat ek moeite het om dit klaar te maak. Ek dink byvoorbeeld aan die live weergawe van James Blunt se "No Bravery" wat ek op dvd het. Die studioweergawe het niks vir my gedoen nie, maar in die live weergawe het sy pyn my gestop in my spore.  

 

 

Geleenthede om 'n verskil te maak

 Ek was maar nog altyd 'n sucker vir 'n cause. Baie van my vriende is ook so. Gaan loer gerus na die goeie werk wat Trevor Sampson byvoorbeeld doen in die Kaapse Vlakte by http://restoringthesound.co.za - Ten eerstens is Trevor goeie mens, en is een van my vriende wat ek 'n lang pad mee saamgeloop het. Hy doen 'n onselfsugtige werk wat 'n werklike verskil kan maak. Ek wil nie te veel daarop ingaan nie, maar ek  beveel baie sterk aan dat julle gaan kyk waarmee hy besig is.

Gaan kyk ook na een van my ander causes - Sole of Africa by http://www.thesoleofafrica.org/ -  Hierdie mense doen iets daadwerkliks oor die probleme in ons buurlande. Julle sal sien dat al hierdie dinge waarna ek verwys dinge is wat 'n verskil maak. Regte egte oplossings probeer aanbied.

So, sien ek die heel tyd meer sulke dinge wat mense doen wie ek vertrou, en dit inspireer my om betrokke te wil raak. Ek weet dat ek nét só veel bandbreedte het en só veel tyd het en só veel geld het, maar ek wil daar wees en help.

Ek wil saam met Steve Hofmeyr plakkate rondswaai teen misdaad en wil daar wees en pleit vir die onskuldige slagoffers van geweld en misdaad. Ek wil saam met Trevor dinge doen wat 'n verskil maak aan jongmense in die Kaapse Vlakte, en ek wil saam met Kai staan en kyk wat ons almal saam kan vermag om die verminking van landmyne in ons buurlande te help stopsit.

My kop werk in oplossings. As iemand vir my 'n foto wys van 'n arm seuntjie uit Afrika of 'n hondjie wat mishandel is, dink ek "haai foeitog", en vergeet weer daarvan. Miskien het ek imuun geword teenoor foto's van ander se lyding omdat ek so baie daarvan al gesien het, maar as iemand na my toe kom met 'n plan en sê "Hier is 'n probleem en hier is 'n manier om by te dra tot die oplossing", dan werk my kop en ek wil betrokke wees.

 

Ek moet versigtig wees om sulke uitsprake in die publiek te maak, maar ek wil ernstig daaraan werk om 'n reeks konserte te hou vir my gunsteling causes. Trevor het byvoorbeeld 'n kortval van meer as R 100 000 om die musiekskool te run vir 'n jaar. Hulle kort dringend witborde (2) en dataprojektors (3). Ek sou 'n reeks shows betrokke wou wees waar ons as musikante die wins van die konsert kan gee vir sulke dinge. Goed wat 'n verskil maak en met werklike, werkbare planne daaragter. So 'n reeks konserte kan direk geld oplewer vir sulke aksies, maar ook advertensie genereer vir die causes wat belangrik is.  Miskien 1 keer per maand of 1 keer per kwartaal? Wat dink julle? As daar musikante hier lees, stel julle belang? As daar eventorganisers hier lees? sal julle jul tyd gee om een so 'n event per maand of kwartaal te reël? Kom ons maak 'n verskil!!

 

 Miskien moet ons nie wag vir ander om die geleenthede te skep vir ons om spesiaal te wees nie. Miskien moet ons self die geleenthede maak.Cool

 

Groete uit die Sandput

 

-Gideon- 

 

 

   

Page 18 of 18

Flash Mp3 Player

Ondersteun deur

Banner

Wie besoek ons...

We have 36 guests online

Ranking on ZA Topsites

ZA TOP Sites

Ranking on SA Top Blogs

saTopBlogs.co.za