Saturday, August 30, 2014
   
Text Size

Deursoek Webwerf (Search)

Blog

Radio Platorand, Tswane - die Heilige koei, Die twee Zuma's

(0 votes)

Radio Patorand onderhoud 

Gister was interessant. Baie interessant. Ek was gister by ‘n Studio in Silverton waar hulle die onderhoud met Rea (met ‘n e le Roux vir Radio Platorand) opgeneem het. Dit was vinnig en effektief in die kassie en sal as Radio Platorand se Ster van die Week uitgesaai word. Ons weet nie wanneer dit sal uitgesaai word nie, maar dit is ’n mooi onderhoud (volgens my). Ek sal julle op hoogte hou met die uitsaaidatums.

 

Vanmore kry ek toe uiteindelik weer kans om ’n bietjie te koerant, en o wee – dit is maar die normale ding vir ’n weeksdag by News24.

 

Die Heilige Koei vra duur vir haar melk

Eerste „goeie“ nuus vir die dag is dat krag in die ewig-ontwykende Tswane (vir die naamveranderende burgermeester in elk geval) gaan opgaan met meer as 30%. http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2520527,00.html Net om almal nog gelukkiger te maak om in die land van die heilige koei te woon, gaan eiendomsbelasting, water en sanitasie-dienste met 13% styg en Vullisverwydering met 17%. Ek weet nie of dit net ek is nie, maar vir ’n regering wat probeer voorgee dat hulle omgee vir hul kiesers, lyk dit vir my ’n erg verdagte ding om te doen. Of miskien is dit ’n manier om al julle Pretorianers te straf wat nie vir die ANC gestem het in die vorige verkiesing nie? Ek sien dat dit nou die manier is wat besigheid gedoen word. Die ANC is glo ook nou besig om die DA te straf vir „beledigende“ opmerkings oor onse Prez.   http://www.news24.com/News24/South_Africa/Politics/0,,2-7-12_2520386,00.html . As straf vir Zille se uitlating dat Jacob Zuma sy vrouens blootstel aan moontlike besmetting met VIGS as gevolg van sy klaa rblyklike voorliefde vir wyfies met VIGS en daarmeegepaardgaande kreatiewe voorkomingsmaatreels. Dit smaak my dat robuuste politiek net goed is wanneer dit bedryf word deur ons almal se gunsteling jeugleier.

 

 Dudu se paartie

Gepraat van Sy Edele die Prez-till-Jesus-comes – ek sien dat sy dogter-uit-een-van-sy-sewe-huwelike, Duduzile Zuma so hard gewerk het aan pappie se verkiesingsveldtog dat sy ‘n lekker verjaardagpaartie gehou het. ‘n Verjaardagpaartie van so R 400 000. http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2520492,00.html – die heersende Lord of the Flies, Julius was ook daar – met nog 600 van h aar beste vriende. Een van my persoonlike gunstelinge vir so ‘n eerste-generasie-na-bevryding soiree moet sekerlik José Eduardo dos Santos ( die president van daardie ander vrug van die rewolusie – Angola) se dogter, Malva. Lank lewe die rewolusie! Geregtigheid en gelykheid vir almal! Duduzile is natuurlik ‘n “sakevrou” en dit is waarom sy ‘n soiree kan hou vir 600 mense. Misterieus genoeg kan die organiseerder nie vertel wie daarvoor betaal het nie. Terloops – dit is dieselfde Duduzile wie se getuienis in die hof deurslag gegee het tot Meneer Prez se vryspraak vir die verkragtingsaak so ’n paar jaar gelede. Ek wonner nou maar net. Hoe is dit dat die arme bloedjie so uitgeput was na pappie se verkiesing as ’n sakevrou beskryf kan word. As jy maande lank verkiesingsdinge doen is daar mos nie tyd vir sake nie?  ‚n Bietjie Google (ai wat het ons voor Google gedoen) noem dat sy gedurende Zuma se verkragtingsverhoor vir MTN gewerk het, en al wat ek op hierdie stadium op kort kennisgewing kan uitvind, is dat sy in alle berigte as ’n besigheidsvrou gelys word en gereeld vir onse Prez vergesel na amptelike funksies. Weet enige van julle watse besigheidsvrou die Eerste Dogter is? Laat my weet asseblief!

 

 

Vanaand gaan ons Andre Swiegers se show kyk by Steak 'n Ale. Sien julle daar!!

 

Tot Kyk

 

-Gideon-

 

Terug van Weggewees, Rea le Roux, Swiegers en Battle of the Bands

(0 votes)

Besigheid soos normaal

 

Ek begin nou weer in die ritme van my normale lewe in te kom. DIt is moeilik, maar nie omdat ek nie van my lewe hou soos hy is nie. Dit is moeilik omdat as mens se ritme versteur is, jy so ‘n bietjie sukkel om jou ewewig weer terug te kry.

 

Liedjieboer

Dus – terug na normale dinge. Vanaand gaan ons weer Liedjieboer toe vir ons normale Woensdagaand gig. Ek rek die definisie van Normaal miskien so ‘n bietjie, omdat ek ‘n maand laas daar gegig het. Niks vreemds nie, maar met al die April versteurings in programme as gevolg van oudig nie reelmaat aan Woensdagaande by die Liedjieboer nie.

 

Onderhoud met Rea le Roux

Donderdag gaan ek ’n draai maak in ’n studio in Pretoria waar ons ’n opname gaan maak vir Radio Platorand se Ster van die Week. Dit is ’n advertensie in onderhoud formaat wat dan uitgesaai word oor Radio Platorand. Dan speel hulle ‘n paar van my liedjies en ons gesels oor alles waarmee ons besig is op die oomblik. Die onderhoudvoerder is Rea le Roux, en ek dink dit gaan nogal pret wees. Die dilemma vir my is dat ek sort van by verskeie kruispaaie in my loopbaan staan, en nie regtig weet waaroor ons in die kort tydjie kan gesels nie. Murg is nou al ’n jaar lank beskikbaar, maar dit is nie regtig wat ek op die oomblik doen nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek skryf nog songs, maar die hele solo ding is nie so veel van ’n fokus vir my op die oomblik nie. Ek geniet dit miskien te veel om ’n deel van ander groot goed te wees. Daar is die akoestiese stelle wat ek saam met David doen wat ek vreeslik baie geniet, daar is die hele ding met Murg wat volgens my groot gaan gaan, en dan is daar al my ander konsepte waaraan ons tussendeur dink en soms ook werk soos die Naak konsepalbum, die Chris de Burgh tribute show wat nog van die grond af moet kom. Dan is daar die opwindende dinge wat ons doen met fotografie – dus daar is te veel om oor te praat. Ek sal julle meer laat weet oor die onderhoud en wanneer dit lugtyd gaan kry en so aan na die onderhoud.

 

 

Swiegers by Steak 'n Ale

Vrydagaand gaan ek vir Andre Swiegers ondersteun by Steak ’n Ale. Ek gaan dit nie net doen omdat ek ‘n groot fan van sy musiek is nie, maar ook omdat ek dink dat ons as musikante ons goeie liedjieskrywers nie genoeg ondersteun nie. Ook ons Afrikaanse gehoor waardeer ons goeie skrywers nie genoeg nie. Ek wil dus vir julle almal ’n uitdaging stuur hiermee. Probeer om elke maand minstens een goeie skrywer se show by te woon. Daarby bedoel ek nie net een goeie entertainer soos Kurt Darren nie, maar net een skrywer van sielsmusiek. Dit sal miskien nie ’n wilde danspaartie raak nie, maar jy sal jouself geniet en jy sal werklik baie meer daar uit kry as wat jy sou kon dink. Bel gerus Steak ’n Ale en boek.

 

Klipdrift Battle of the Bands

Die naweek het ons ’n repetisie vir die Klipdrift Battle of the bands. Murg speel Dinsdagaand en ons het julle ondersteuning nodig. Ek meen dink net daaraan – ons is ‘n band van ou ballies (okei – Jacques is oud – ek is net soos goeie rooiwyn en die ander is almal youngsters) wat teen die jong generasie wil gaan deelneem in ‘n kompetisie om toerusting en ‘n platekontrak te wen. Ons het nie een van daai goed nodig nie, maar ons wil deelneem en goed doen en ons eie brand van musiek by gehore uitkry wat nie weet wie ons is of wat ons doen nie. Dit is net R 10-00 vir ‘n kaartjie en belowe om die grootste jol te wees waarvoor jy nie toegesluit kan word nie. Kyk by www.wimpie.co.za/klipdrift vir meer inligting

 

Sien julle almal daar!!!    

 

Tot kyk

 

-Gideon-

   

Ek is verlief

(0 votes)

Ek is verlief

 

Ek het haar een Sondagmiddag ontmoet op een van haar soel Lentedae. Ek het my groot geel tas agter my aangesleep na die toonbank wat sy domineer het. Die glimlag was een van opregte verwelkoming wat die uitputting van ‘n dag van lughawens en vlieg weggevee het en twintig jaar uit my murg gespoel het. Die “Bona Sera  Senor” het musiek gemaak in my ore en die pyn van inboek in haar hotel verlig. Haar gekartelde hare het beweeg sonder dat sy beweeg het. Dit was seker net ’n optiese illusie want wat beweeg terwyl dit nie beweeg word nie? Sy het my beskerm teen my ego se broosheid toe die stelsel nie die maatskappy se kredietkaart wou aanvaar waarmee en wou betaal nie. Dit was geen probleem nie, en nie ’n vernedering nie, net ’n telefoonoproep wat die tegniese probleem opgelos het.

 

Ek het haar gesien in haar vrolike Somersoggend toe sy met haar bromponie in die Piazza de Colosseum verbygerits het. Ek het by die Royal Café gesit en ’n yskoue Nastro Azzurro gebruik om my bestand te maak teen die hitte terwyl sy die Piazza besit het. Niemand het gedurf om haar kleim te betwis nie. Ek het haar weer gesien met ’n piekniekmandjie langs die Tiber waar sy ’n bottel Chiante met’n minnaar gedeel het.  Haar lag het weerklink van die Isola Teberina tot waar ek van die Ponto Palatino haar skoonheid probeer vaslê het

 

 Sy het verby my gestap in haar Herfs saam met haar vriendinne, en nog steeds die mans se koppe laat draai met haar magnetiese skoonheid. Sy het hulle ignoreer met die selfvertroue wat net skoonheid wat dieper le as die vel kan gee. Geen sweem van arrogansie nie, maar tog het haar heupe vertel van Boticelli en Bocelli. Die oomblik waar sy vasgenael gestaan het voor die beelde van haar Lente kon ek sien hoe inspirasie weerspieël word deur inspirasie. Hoe druk mens dit uit in woorde waar kuns nie eens reg kan laat geskied aan vervloë jeug nie?

 

Voor my vlug terug het ek haar sien dans tussen die kolomme van die Sint Petrus Plein, met haar arms wyd oopgegooi met die belewenis van haar eie Winter. Die wysheid van antieke geloof, die struktuur van beleë kultuur, die oorblyfsels van twee en ‘n half millenia kan haar nie keer om haarself te vernuwe en oor en oor haarself uit te vind nie. Die Madonna, die Kind, Romulus en Remus wat beskerm is deur die wolf.

 

Rome, ek is verlief.

 

 

 

 

 

 

 

   

Terug uit Rome

(0 votes)
Hoi Almal, Ek is terug. Ek is nie baie lewenslustig nie, en ook nie baie opgewek nie, maar ek is terug. Ek sal uiteraard meer vertel oor Rome en ook die terugreis, maar vir eers voel ek of daar 'n boom uit my een oogkas uitgroei, my ore uitgespuit is met soutsuur, iemand met 'n MX motorfiets donuts in my keel gemaak het en of King Kong my ribbekas liefkosend ingeduik het. Al troos wat ek het is dat dit heel moontlik nie die Meksikaanse griep is nie, omdat dit 'n twee dag inkubasietydperk het. In kort, ek het eergisteroggend opgestaan, 'n vinnige voetverkenning van die Vatikaan gaan doen, teruggetrein na die Hotel en 3-uur Saterdagmiddag met Emirates gevlieg na Doebai. Ek het elfuur die aand geland, en 10-uur gisteroggend gevlieg uit Doebai na Johannesburg om gistermiddag so 4:30 te land. Paspoortbeheer was vinnig, en bagasie ophaal was stadig, met al sportiewe interessantheid 'n antie met 'n groot "Agriculture" op haar rug wat 'n Beagle-hond gebring het om aan almal se privaatdele te kom ruik. Seker maar om uit te ruik wie lanbouvaardig besig was in die buiteland. Dit het ek alles reg gekry sonder 'n uur se slaap. Gisteraand by die huis het ek weer swaargekry oor iets wat ek geeet het, en dus net 'n paar uur slaap ingekry.  Ek is moeg, en wil slaap. Tot ek weer wakker genoeg is om te kan skryf!! -Gideon-
   

Groete uit Rome

(0 votes)

Waar moet ek begin? Die afgelope week was dol – dol verby. Ek het Saterdagmiddag op die vliegtuig geklim en eers na Dubai gevlieg, en daarna na Rome. 7-uur Sateragaand tot 1-uur Sondagmiddag. Ek was behoorlik klaar van dit alles.

 

Die enigste konstruktiewe uitkoms daarvan was dat ek baie tyd gehad het om baie diep daaroor na te dink waarom ’n lugredery soos Emirates ’n plek het op hul kaartjie met ’n sigaret en dan ’n stempeltjie bo-oor wat se „no“. Emirates soos ander IATA lugrederye het nie so iets soos ’n vlug waarop mense kan rook nie. Meeste lugrederye het die afgelope 10 jaar al nie ’n vlug waarop mens kan rook nie. Vliegtuie kom nie eens met asbakke nie. Waarom sou lugrederye dan nog steeds ’n vlug as rook-vry klassifiseer as daar nie vlugte is wat rokend is nie?

 

Ek kom toe in Rome aan en gaan slaap vroeg. 8-uur al want ek het 1 uur geslaap op die vliegtuig – ’n rekord vir my want ek kan nie slaap op vliegtuie nie. Ek kan nie regop sit en slaap nie. Hierdie vlug het ek egter vir my een van daai kussinkies gekry wat jy opblaas en om jy nek sit. Ek dog dat ek dan lekker sal tv kyk. Driekwart deur 'n fliek (ek het altesaam ses flieks gekyk tot in Rome) raak ek toe aan die slaap. Ek het uitegwerk dat ek toe vir ’n uur geslaap het voordat my buurman (of vrou – ek kon nie lekker uitmaak nie) my wakker maak om na die „wc“ te gaan ( ek neem aan dit was die Water Closet – hulle was Aussies en praat nie lekker Engels nie). Go figger. Hier val ek vir die eerste keer aan die slaap op ’n vliegtuig en my buurpersoon maak my wakker na net 1 uur.

 

Ek word toe vroeg wakker die volgende oggend (dit is nou Maandagoggend) en klim op die hotelbus om 8-uur die oggend. Lekker ding die hotelbus. Hy vat ons al die pad na Rome se middestad toe, en laai ons in die middel van nerens af. Ek weet toe nie wat nou nie, en ek vra die mense om my, maar hulle praat net Italiaans, Japanees, Koreaans en ander tale wat ek nie eens weet wat dit is nie. Ek doen toe wat ek in die Armie geleer het en stap na die naaste boom om uit te werk waar ek is. Nee – ek het nie die boom geklim nie, simpel! Mens kyk na die bas van die boom, dan weet jy waar Noord is en waar Suid is. In die Noordelike halfrond groei die mos aan die Noordekant van die boom. Slim ne? Behalwe natuurlik dat ek nie geweet het of ek Noord, Suid, Wes of Noord van enigiets betekenisvol was nie, so ten spyte van die opvoedkundige waarde van die hele ding, het ek nog steeds nie geweet waar enigiets is nie – wat enigiets ookal mag wees. Ok - die volgende strategie as jy verdwaal is is om te probeer maak vir die hoëgrond en dan van daar te probeer sien of jy kan weet waar jy is. Ek sien toe ’n koppie daar naby en loop in die rigting. Daar was ’n hele klomp interessante plekke waarby ek verbygestap het. Daar is byvoorbeeld plekke waar antieke stukke pilare en so aan in die mure ingebou is. Uiteindelik het ek uitgekom by ’n ou kerk en toe ek verby die kerk ky was daar iets... ouds – baie oud. Dit was toe die plek waar ek wou wees – heeltemal per ongeluk. Die Romeinse forum.

 

 Die res is half ’n blur van foto’s neem (ek sal baie oplaai vir jull eom na te kyk – ek belowe – sodra ek kans kry om dit uit te sorteer) tot ek geval het by die Colosseum. Niks ernstig nie. Ek was besig om foto’s te neem en my voet het geswik op een van die trappies op pad van die pad na die Colosseum, en toe verloor ek my balans. My knie het nie baie daarvan gehou nie, en die spiere in my kuit ook nie. Lang storie kort - ek het aangehink na ’n bietjie skaduwee by die bome onder die boog van Augustinus, waar ek gaan sit het op ’n muurtjie. 'n Ou oom wat 'n bietjie meer verstaanbare Australiaans gepraat het as die persoon op die vliegtuig het ook toe aangehink gekom en ons het lekker aan  die gesels geraak. Hy vertel toe dat sy vrou aan die rondloop is met die kamera terwyl hy net moeg is. Toe ek  haar later sien het ek verstaan – sy was seker 30 jaar jonger as hy. In elk geval 'n heerlike interessante storie wat die oom te vertelle het. Hy het op die destydse posbote gewerk deur die 50’s tot 1967 toe hy oorgeskakel het na die Qunard Line en op onder andere die Queen Mary, en van hul ander trotse skepe gewerk het. Dus sit ons toe en wag vir sy vrou om hom weer aan te jaag terwyl ek ’n wyle rus.

 

Toe ek weer op my voete kom, kom ek agter dat hierdie nie net moegheid was wat die been gevang het nie, maar dat ek dalk iets ernstiger onderlede het. Net toe bel Angus my en vertel dat hy en Spiro geland het by die lughawe en my 'n bietjie later sal ontmoet erens. Ek hink toe maar aan na een die restourante (gaan check - mens kan dit as Restaurant of Restourant skryf in Afrikaans. Lang storie agter die stelling, maar gaan 'n tannie van Putsonnergatsonnerwater my noudieag amper te lyf omdat Restourant spel met 'n "ou" eerder as 'n "au") langs die Colosseum, en maak myself gereed vir lank wag. Ek het die kans gebruik om mense-foto’s te neem. Die eienaar van die Royal Cafe raak aan die gesels met  verbygangers en nooi hulle dan na sy restourant toe Wat vir my interessant was, is dat die Italianers wat verbygekom het eers ’n geselsie aangeknoop het met hom en miskien selfs na die menu gekyk het – in elk geval altyd hartlik. Die buitelanders wat verbygekom het, het kom  net verbouereerd aangekyk of ignoreer asof hy nie bestaan nie. Lekker geselsskap met die eienaar, lekker mense kyk en ’n lekker koue biertie gedrink so in die son. Teen 1-uur kom Angus en Spiro toe opgedaai, en uiteindelik het ek kans om iets te eet. Ek het gegaan vir 'n gevulde Cannaloni waarvoor hulle die pasta sommer in die restourant maak – dus varsgemaakte pasta net daar voorberei.  Half drie vertel die manne vir my dat ons die bus om 3-uur moet gaan vang en daar trek hulle weg asof hulle die maraton moet gaan wen. Uiters iriterend vir iemand wat se been baie seer ietse aan het. Ek hinke toe agterna, maar toe ons seker 50 meter van die bus af was, vertrek die bus weer.

 

Ek het natuurlik nie ’n probleem daarmee gehad nie, want ek is rustig. Angus reken dat hy vir Trevor wil gaan ontmoet en Spiro reken ons moet ’n taxi vang terug na ons hotel toe. Ek stap toe op na die rivier toe en wil net ’n bankie gaan soek waar ek my seer been kan laat rus en ook sommer  foto’s maak van die rivier. Dan kon ek lekker die twee uur sit en uitwag, mense kyk en sommer net Rome se atmosfeer inneem. Ek het die foto’s geneem en toe kom die twee manne en besluit dat ons aan moet stap na die Metro toe. My flip – daar trek ons alweer los in maratonmodus verby die Circus Maximus tot by die metro – seker weer 'n halfuur teen topspoed. In die metro in waar die sekuriteitspersoon vir my gevra he tom nie foto’s te neem van die trein nie. Ek kan dit nogal  verstaan, want die graffiti op die trei n is nogal bewonderenswaardig en mens moet sekerlik die kopiereg van die kunstenaars beskerm. Wat ek nie kan verstaan nie, is hoe hulle die trein volverf terwyl die trein ry. Hulle staan ook nie lank genoeg stil op die platform om gepaint te word nie.

 

Ons het uiteindelik so teen 5-uur by die Hotel aangekom met die trein en ek was eerlikwaar erg flou. Om die waarheid te se – dit is nou ’n dag later, en ek is nog steeds flou. Die knie voel beter maardie kuitsoier is baie broos. Die son het my ook erg gebrand, so ek lyk soos ’n blosende jong man.

 

Sodra ek kans kry om weer iets bymekaar te sit, plaas ek weer vir julle iets, en (ook sodra ek kans kry om alles uit te sorteer) ek sal ook binnekort vir julle kiekies oplaai.

 

Groete uit Rome

 

-Gideon-

   

Page 12 of 18

Flash Mp3 Player

Ondersteun deur

Banner

Wie besoek ons...

We have 173 guests online

Ranking on ZA Topsites

ZA TOP Sites

Ranking on SA Top Blogs

saTopBlogs.co.za